Gallery III 
Roosknop of Marmerklip

With this exhibition the artist looked at the different stereotype rolls of a woman.   A variety of material was used in order to portray the stereotypes.  The Afrikaans poems were written by the artist to echo the sculptures.




 

Abbakind

vir nege maande
het jy die geskenk gedra
tapisserie van ideale
toneel vir toneel gedroom
hoe sou jy ooit kon weet
die bondeltjie vreugde
gaan jou abbakind word
tapisserie van ideale
mylpaal vir mylpaal gebid

 

 

 

Wasdagblues

Kleur by kleur en wittes apart
manifes van 'n wasdag koningin
"Kan so min so baie besmeer-
volgende wasdag gaan ek sowaar abdikeer."

 

 

 

Vorm van haar hart

Ets teen die blad
die vorm van haar hart
om te kan vermag
meer as die vorm van haar dag

die lewe te kwas
om gewone weer te laat verras

met swanedans te vlieg
arabesque oor sprokies verhoog

met snare te tower
note wat dowe harte verower

met pennevlug woorde te pantser
wat denke bevry uit donker kerker

met masker en toneel
ou wêrelde nuwe lewe te beveel

Haar wens
mag die vorm van haar hart
nooit verslyt
tot ronde niks 

 

 

 

Moeder sonder titel

Jou oë - 
 het my leer kyk
 na die mooi van
 die oggenddou op 'n blaar

Jou ore-
 het my leer luister
 na die reënboog klanke
 van 'n simfonie

Jou lippe-
 het my leer bid
 "Liewe Jesus ek is klein
 neem my hartjie en maak my rein"

Jou glimlag-
 het my leer vertrou
 -Ja selfs
 in die donkerste nag

Jou traan-
 het my leer verstaan
 om nie rug te keer
 op ander se seer

Sonder titel of hoë amp
lê jy die fondament
vir my lewe en geloof

 

 

Houtkappers en Waterdraers

Noag se oordadigheid
met druif se baldadigheid
laat Gam giggel van meerderwaardigheid
tot pappa-las se verontwaardigheid

"Jou gelag sal jy moet betaal
- houtkapper en waterdraer"
het Noag bepaal

Maar wee o wee,
vir Gam se giggel
moet vroulief nou betaal

 

 

Wandelstaf

'n Pronkstuk
  om mee te spog
'n metgesel
  op pelgrimstog

'n Steun
  onder sware vrag
'n rus
  na moeisame dag

Meer werd is sy
as korale vir my

 

Net nog 'n dag

Dag vol vasvat
dag vol voorvat
dag vol doen
dag vol dink

dag so vol
maar nog nie klaar
voor huismense verklaar
"Dankie, ons is vol."

 

 

 

Alles die moeite werd

Wanneer luide trompettertjies
  om oorvloed sluit
  en vol magies
  ooglede loodmaak
- is alles die moeite werd

Wanneer taai vingertjies
  om joune vertrou
  en waggelbeentjies
  op ontdekkingstogte gaan
- is alles die moeite werd

Wanneer maniertjies
  begin na-aap
  en droomogies
  helde vereer
- is alles die moeite werd 

Wanneer hoekoms
  jou laat kopkrap
  en eerste liefdes
  oë laat skitter
 - is alles die moeite werd

Wanneer kinderkamers
  spaarkamers word
  en nuwe paaie
  met vertroue ontdek word
- is alles die moeite werd

 

 



[Home]  [More on the Artist: Jaco Sieberhagen]  [Gallery I - Archive]  [Gallery II - Exhibition - "Ankerpale"]  
[Gallery III - Exhibition - "Roosknop of Marmerklip"]  [Gallery IV - 2000]  [Gallery V - 2001]  [E-Mail]  [Links]  [To buy Sculptures]  

 


Designed by Riaan Cillié